Ruimtevaarders na Mars 'moet boere wees'
2011-08-30 10:56
Houston – Die ruimtevaarders wat eerste hul voete op Mars sal sit sal waarskynlik ook boere met groen vingers en ‘n slag in die kombuis moet wees, het Nasa gesê.
Om genoeg kos vir die reis na die rooi planeet te pak is een van die grootste struikelblokke wat die mens se eerste besoek aan Mars vertraag, het kenners gesê.
Een oplossing is om ruimtevaarders groente en vrugte in hul eie “kombuistuine” te laat groei.
Hulle sal ook uitstekende vaardighede in die kombuis benodig om ‘n diverse spyskaart vir die lang reis te kan beplan om verveeldheid af te weer.
Hulle sal veel lekkerder moet kan smul as hul droëbek kollegas tans by die Internasionale Ruimtestasie.
Maya Cooper van Nasa het gesê ‘n reis na Mars benodig sowat 3 200 kg kos per persoon.
“Dit is duidelik ‘n groot struikelblok vir ons planne,” het sy voor ‘n vergadering van die American Chemical Society in Denver, Colorado gesê.
“Ons moet ander opsies oorweeg,” het sy gesê. “Ons oorweeg die moontlikheid om gewasse in die ruimte te groei of om in groot maat hulpbronne na ‘n Mars-habitat te stuur.”
– Volg Nuus24 op Twitter.