Ruimtestasie 'sien Kaapstad-stadion'
2012-03-20 09:00
Grahamstad – Om die Groot Muur van China van die maan te kon sien, sou ’n mens nog 17 000 keer beter moes kon sien.
Só het dr. Don Thomas, ’n ruimtevaarder wat in sy loopbaan van 20 jaar by Nasa al vier keer by die Internasionale Ruimtestasie (IRS) was, Maandag hier by Scifest Africa 2012 gesê.
“Elke keer wanneer ek ’n praatjie lewer, vra mense my die vraag oor die Groot Muur.
“’n Mens kan ook nie dié mensgemaakte muur van die IRS af sien nie, omdat die muur nie so hoog is nie (8 m hoog en 5 m breed) en veral omdat dit van klippe gebou is – dit smelt met die omgewing saam.”
Thomas vertel ander strukture kan wel gesien word, veral met ’n verkyker of wanneer hulle met ’n kamera inzoem.
“’n Mens kan die Kaapstad-stadion baie duidelik sien, asook Valsbaai, die V&A Waterfront en die Victoria-waterval in Zimbabwe en Zambië,” het Thomas vertel terwyl hy foto’s wat van die IRS van dié plekke geneem is vir sy Grahamstadse gehoor gewys het.
Las Vegas is saans die helderste plek op aarde, met die bekende casino-strook wat helder uitstaan.
Daar is net ’n handvol grense wat vanuit die ruimte gesien kan word.
Die grens tussen Israel en Egipte is die helderste en vertoon soos ’n reguit lyn, met dorre woestyn aan die westekant en welig bewerkte landerye en beboude gebiede aan die oostekant waar Israel is.
“Ek het sandstorms gesien wat oor lande beweeg – selfs oor die see.
“Die riwwe van die Groot Koraalrif in Australië lyk soos ’n groen halssnoer om die land,” het Thomas vertel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger