Ruimte-uitkykpunt voltooi
2010-02-17 12:08
Florida, VSA - Ruimtevaarders het Dinsdagaand hulle derde en finale ruimtewandel van hulle missie geneem toe hulle die Internasionale Ruimtestasie se fenomenale nuwe uitkykpunt geopen het.
Robert Behnken en Nicholas Patrick het ‘n hele paar laaste takies gehad wat hulle buite die uitkykpunt moes afhandel voordat hulle die sewe vensters, wat ‘n asemrowende uitsig van die Aarde bied, oopgemaak het.
"Kom ons neem die bekleedsel af,” het George Zamka, die pendeltuig se bevelvoerder beveel.
"Dit is wel die stasie se kleinste module, maar goeie goed kom in klein pakkies,” het Patrick bygevoeg.
Behnken en Patrick het geen probleem gehad om die stywe isoleermateriaal van die koepelvormige uitkykpunt te verwyder nie. “Die gloeiende metaal lyk uitstekend,” het Zamka gesê.
Daarna is die luike voor die vensters opgemaak.
En nou kan die beste en grootste uitsig oor die Aarde deur ruimtevaarders geniet word.
Die observasiedek ter waarde van $27 miljoen (R207 miljoen) is deel van die nuwe kamer van die ruimtestasie, beter bekend as Tranquility.
Die pendeltuig, Endeavour het die Europese kompartemente vir die uitkykpunt verlede week afgelaai.
Die Italiaanse koepel, wat 1.5 meter lank is en byna drie meter in breedte is, is ontwerp om ‘n 360°-uitsig te bied. Die uitsig sluit in die planeet Aarde, die omliggende ruimte en die ruimtestasie self.
Die koepel word deur ses trapesoïde vensters omring.
In die middel van die koepel is ‘n ronde venster met ‘n dikte van 79 sentimeter.
Dit is die grootste venster wat nóg na die ruimte gevlieg is.
Dinsdagaand se ruimtewandel was die laaste van die bemanning van Endeavour se konstruksiewerk aan die ruimtestasie.
Die pendeltuig vetrek Vrydag terug huis toe.
- Sapa-AP