Rook in motor uiters ongesond, toon studie
2012-10-16 15:03
Parys – Wanneer 'n insittende in 'n motor rook word die vlak van gevaarlike mikrodeeltjies in die lug aansienlik hoër as die perk wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanbeveel word, toon 'n nuwe studie.
Dokters in Brittanje het die konsentrasie fyn deeltjies in 17 verskillende motors getoets deur 'n monitor op die agtersitplek te gebruik. Altesaam 14 van dié motors is deur rokers bestuur.
Die vrywilligers is gevra om hulle gewone rookgewoontes te volg, en die rookvlakke in die motor is oor drie dae gemeet.
Altesaam 104 reise, wat 'n gemiddeld van 27 minute elk geduur het, is gemeet. 'n Totaal van 83 van dié reise is korrek opgeteken. Altesaam 49 van dié reise is deur rokers voltooi, en 34 was rookvry.
Die vlak fyn deeltjies gedurende die reise van rokers het 85 mikrogram per kubieke meter gemeet, vergeleke met die 25 mikrogram wat deur die WGO as veilige perk gestel is.
Selfs wanneer die bestuurder die venster oopgemaak het of die verkoeler aangeskakel het, was die vlak van fyn deeltjies steeds heelwat hoër as die WGO se perk.
Die vlak van fyn deeltjies gedurende reise van nie-rokers was slegs 7,4 mikrogram per kubieke meter.
"Kinders wat aan hierdie vlak fyn partikels blootgestel word kan gesondheidsprobleme ondervind," het een van die bevindings in die studieverslag gelui.
Die studie is gelei deur Sean Semple, 'n wetenskaplike by die Universiteit van Aberdeen.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP