Romantiese slimkop vra ja-woord met skattejag
2011-09-06 10:30
Kaapstad – Toe die sagteware-ingenieur Ari Gilder besluit het hy is gereed om sy meisie Faigy te vra om sy vrou te word, het hy al sy talente ingespan om die ja-woord te kry.
Ari, ‘n ingenieur by die internet-reus Google, het sy kennis van Google Maps gebruik om ‘n skattejag in die strate van New York vir sy beminde te beplan.
Hy het haar van bakboord (‘n bakery waar hulle hul eerste afspraak gehad het) na stuurboord (Carnegie Hall, waar sy Ari met kaartjies na ‘n Beethoven-konsert verras het), gestuur.
Hy het met Faigy se baas gereël om vir haar ‘n Nexus One-toestel te gee waarmee sy die kaarte kon lees en op haar kêrel se spoor kon bly.
By elke punt op die kaart het een van Ari se vriende haar met ‘n roos ingewag.
“Elkeen van my vriende het Faigy ‘n vraag gevra wat met ons herinneringe van dié plek verband hou. Die antwoord was haar sleutelwoord vir haar volgende bestemming,” het Ari gesê.
Toe Faigy uiteindelik by die sewende punt op haar skattejag by die Roosevelt Island-lighuis opdaag, het Ari haar daar met ‘n roos, bewende hande en senuweeagtige glimlag ingewag.
Saam met die roos het hy haar ook met ‘n vraag verras – die groot een.
“Ek laat dit aan julle oor om te raai wat haar antwoord was,” het Ari sy inskrywing op die Google-blog afgesluit.
– Kyk hier na die foto's van Faigy se romantiese skattejag.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24