Robotte gee Engels in Suid-Korea
2010-12-29 10:01
Seoel – Robotte neem dalk binnekort die poste van menigte Engelssprekendes wat Ooste toe reis om Engels te gee, oor, berig Yahoo!News.
In ‘n stad in Suid-Korea is 30 robotte reeds by skole ingespan om dié nuwe benadering tot Engelse lesse te toets.
Die robotte is net onder ‘n meter lank met ‘n televisieskerm waarop die avatar-gesig van ‘n Westerse vrou verskyn.
Hulle word vanuit die Filippyne deur Engelse onderwysers, wat die kinders kan sien en hoor, beheer.
Die avatar neem ook die gesigsuitdrukking van die Engelse onderwyser wat die les behartig, aan.
Die robotte is geprogrammeer om boeke voor te lees, liedjies vir die kinders te leer en alfabet-speletjies met hulle te speel.
Sover het die projek nog net positiewe terugvoer ontvang.
Dit wil voorkom asof veral skamerige kinders eerder met die robot kommunikeer as met ‘n regte onderwyser.
Die projek is ook veral gespits op klein dorpies in Suid-Korea se platteland, waar baie min Engelse onderwysers wil gaan klasgee.
Kliek hier vir die volledige storie.
Volg Nuus24 op Twitter.