Robotjies wys hul driekamp-staal
2011-09-17 15:54
Tokio – Drie Japanse robotjies – een wat kan swem, een wat kan fietsry en een wat kan hardloop – is ingeskryf vir die Ysterman-driekamp-kompetisie wat op 8 Oktober in Hawaii gehou word.
Panasonic, vervaardiger van die robotte, wil sy reeks herlaaibare Evolta-batterye, wat die robotte aandryf, sodoende bemark.
’n Stel van drie herlaaibare batterye sal vir die hele driekamp, bestaande uit ’n swemstryd oor 3,8 km, ’n fietsren oor 117,9 km en ’n wedloop oor 41,92 km gebruik word.
Nadat die een Evolta-robot sy taak verrig het, sal die batterye dus na die volgende robot oorgeplaas word.
Tomotaka Takahasji, skepper van die Evolta-robotte, hoop sy drie meganiese atlete sal die driekamp in ’n week (168 uur) voltooi nadat die batterye soveel nodig herlaai is.
Panasonic het sy Evolta-batterye al voorheen op soortgelyke maniere bemark.
Evolta-robotte het byvoorbeeld al die Grand Canyon in die VSA uitgeklim, aan die Le Mans-uithouren in Frankryk deelgeneem en 500 km van Tokio na Kioto gestap.
Die robot wat fietsry is 23 cm lank, die een wat draf 25 cm en die wat swem 51 cm.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld