Robot bring bellers ‘tot langs jou’
2010-08-02 09:17
Die Burger
Tokio. – Japannese navorsers het Sondag ’n robot – wat dit laat voel asof mense wat jou bel reg langs jou staan – bekend gestel.
Die robot boots spraak en gebare na van ’n spesifieke persoon wat per videofoon gestuur word. Die robot word Telenoid R1 genoem, het die Osaka-universiteit en die Navorsingsinstituut vir Gevorderde Telekommunikasie gesê.
’n Sensor dra klanke en bewegings van die persoon wat bel na die robot oor.
Die robot lyk soos ’n mens, maar dit het nie hare nie, sodat dit “soos ’n man of vrou, en oud of jonk” kan lyk.
Die robotte gaan na verwagting sowat 3 miljoen jen (sowat R254 000) elk kos, in gevalle waar dit vir navorsing gebruik word.
Robotte vir algemene gebruik gaan 700 000 jen (sowat R60 000) elk kos.
- Sapa - AFP