Robot-bene help parapleë loop
2010-07-16 14:26
Wellington (Nieu-Seeland) – Twee Nieu-Seelanders het die wêreld se eerste motoriese bene ontwikkel wat parapleë kan help om weer te loop.
Die 23-jarige Hayden Allen was die eerste parapleeg om dié nuwe bene uit te toets.
Hy het vyf jaar gelede beweging in sy bene verloor ná ‘n motorfietsongeluk.
Allen sê hy het weer soos ‘n normale mens gevoel toe hy die motoriese bene aan sy eie vasmaak en sélf kon opstaan en ‘n paar tree neem.
“Sosiaal sal dit die wêreld se verskil maak as ek nie altyd na mense moet opkyk nie,” het hy gesê.
Richard Little en Robert Irving, die uitvinders, kom oorspronklik van Skotland af en het meer as R53 miljoen op die projek spandeer.
Hulle is glo geïnspireer deur Sigourney Weaver se karakter in die film Aliens, waarin sy ‘n robot-eksoskelet aantrek om ‘n wese uit die buitenste ruim te veg.
Little en Irving is oortuig daarvan dat hul uitvinding ‘n realistiese alternatief is vir rolstoele.
Volg Nuus24 op Twiitter.