Reuse krokodil in Aus gevind
2009-10-23 13:33
Sydney - Dit het die krag van vyf mans en ‘n verdowingspyl geneem om ‘n soutwater-krokkodil van 5 meter lank uit ‘n valstrik in Australië se tropiese noorde te kry.
Dié reuse reptiel is in ‘n strik gevang naby ‘n gewilde swemplek aan die buitewyke van Darwin, wat toegemaak is weens besmette water, het Tom Nichols, ‘n senior veldwagter gesê.
“Dit is die grootste krokkodil wat ons in die laaste vier jaar teegekom het,” het Nichols gesê.
Die veldwagter het bygevoeg die reptiel is in 'n goeie toestand en het vermoedelik vanaf die hawe in Darwin gekom.
Hy is toe met ‘n trok na die stad se krokkodilplaas vervoer.
Vanjaar is twee mense dood in krokkodilaanvalle in Australië se noordelike gebiede, wat ‘n bevolking van sowat 80 000 krokkodille het.
- Sapa-AFP