Restaurant gebruik iPad as spyskaart
2010-06-25 13:22
Sydney – ‘n Australiese restaurant het hul spyskaarte die trekpas gegee inruil vir Apple se iPad. Klante kan nou disse vanaf hierdie toestel bestel.
Ten spyte van die risiko dat drankies op dié duur toestelle uitgemors kan word, of dat ‘n klant met lang vingers met een kan wegstap het die eienaars van die restaurant Global Mundo Tapas het hierdie gewaagde besluit slegs ‘n par weke nadat die iPad in Australië bekendgestel is, geneem.
"Een van die dinge wat ons restaurant anders maak is dat jy die iPad as spyskaart gebruik,” het Craig Simpson, die bestuurder, gesê.
"Almal is opgewonde oor die IPad, en ons gaan gebruik maak hiervan,” het hy bygevoeg.
Honderde mense het vir ure lank tou gestaan om ‘n iPad in die hande te kry toe dit op 28 Mei vanjaar in dié land vrygestel is. Simpson het 15 van die gesogde toestelle aangeskaf teen Aus $ 629 (sowat R4100) elk.
“Dis die prys van goeie besigheid,” meen hy.
- Go Travel24