Reservaat verwelkom twee nuwe jagluiperds
2011-09-27 08:02
George – Twee jagluiperdmannetjies wat verlede Vrydag in die Gondwana-wildreservaat naby Mosselbaai vrygelaat is, pas goed aan in hul nuwe omgewing.
“Daar is nou vier jagluiperds – drie mannetjies en ’n wyfie – in die reservaat,” het John Vogel, bewaringsbestuurder van Gondwana, gesê.
Die jagluiperdmannetjies, wat albei twee jaar oud is, het eers ’n maand in ’n spesiale boma by die reservaat deurgebring voordat hulle vrygelaat is.
Die twee is vroeër van ’n reservaat in die Oos-Kaap na Gondwana gebring.
Volgens Vogel is ’n leeutrop wat in die Gondwana-wildreservaat rondloop eers na ’n tydelike kamp verskuif om die twee luiperds die kans te bied om die reservaat, wat 11 000 ha beslaan, rustig te verken.
“Die groter luiperdmannetjie het eerste die boma ná sowat 15 minute verlaat, gevolg deur die kleiner mannetjie. Die twee het kort-kort stilgestaan om aan iets te ruik sodat hulle aan die omgewing gewoond kan raak.”
Volgens Vogel is albei mannetjies met GPS-halsbande toegerus sodat die diere se algemene welstand, bewegings en jagpatrone gemonitor kan word.
Die luiperds word nie name gegee nie, maar word deur middel van ’n kode geïdentifiseer.
Daar word gehoop dat die genepoel uitgebrei kan word en dat die wyfie moontlik in die toekoms dragtig sal raak, het hy bygevoeg.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger