Renosters onthoring in private wildreservaat
2011-10-26 08:32
Jeffreysbaai – ’n Groep besorgde natuurliefhebbers het gister naby Jeffreysbaai bymekaar gekom om tien renosters van moontlike stropery te red.
“Ons renosters is altyd in gevaar. Elke dag wat ons uitstel, skep vir stropers die geleentheid om ons renosters aan te val,” het Johan Lottering, eienaar van die private wildreservaat Lombardini, Dinsdag gesê.
“Ons het onlangs wenke ontvang dat stropers ons reservaat moontlik in die oog het. Daarom het ons besluit om ons renosters eerder te onthoring as om hulle dood te sien.”
Die renosters word deur middel van ’n pyl met ’n sterk verdowingsmiddel ingespuit. Daarna word hulle geblinddoek en ’n kettingsaag word gebruik om albei hul horings net bo die uitgroeipunt af te saag.
“Die horings sal ons eiendom bly, maar in ’n kluis weg van ons reservaat gestoor en bewaar word,” het Lottering gesê en ’n horing van ongeveer 5 kg in ’n streepsak toegedraai.
Ferdi Venter, die bestuurder van dié reservaat, is spyt dat die renosters se horings, wat teen 12 cm per jaar weer teruggroei, afgesny word, maar is terselfdertyd baie verlig.
“Elke keer as ek ’n helikopter naby hoor, is ek bekommerd dat die stropers ons geslaan het. Dit is ’n jammerte dat ons renosters onthoring word, maar nou is hulle veiliger en ons kan meer gerus wees,” het Venter gesê.
Daar was ook geleentheid vir Hennie Swanevelder, ’n bio-diversiteitsbeampte van die Baviaans-distrik, om verskeie monsters van die renosters se hare, horings en bloed te neem. Dit sal help om ’n databank van die diere se gesondheid op te stel.
“As gevolg van die sterk middels wat gebruik word, is dit gevaarlik om renosters gereeld te verdoof. Daarom is so projek ’n goeie geleentheid om ook noodsaaklike toetse te doen,” het Swanevelder gesê. Een van sy helpers, Hamile Ndika, werk al vir vier jaar met die renosters by Lombardini en het baie geheg geraak aan die diere.
“Ek raak hartseer as ek hoor van al die renosters wat reg oor die land vermoor word. Hulle is sulke spesiale diere en ek is baie bly ons renosters is nou veiliger,” het Ndika gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger