Renoster sterf ná mikroskyfie-inplanting
2012-02-09 15:04
Kaapstad – ‘n Renoster het Donderdag tydens ‘n demonstrasie van 'n teenstropingsbehandeling gesterf, het die Rhino Rescue Project gesê.
Die renoster, genaamd Spencer, is dood nadat veeartse ‘n middel toegedien het om hom by te bring nadat ‘n mikroskyfie en opsporingtoestel in sy horing geplant is, het Hern gesê.
“Hy het baie goed gereageer op die behandeling en die prosedure is 100% veilig, maar daar is altyd reuse-risiko’s wanneer so ‘n groot dier verdoof word,” het woordvoerder Lorinda Hern gesê.
Die voorval het by die Renoster- en Leeu-natuurreservaat in Kromdraai aan die Wes-Rand plaasgevind.
Hern, wat Spencer se eienaar was, sê narkose is vir die behandeling gebruik.
Daar word vermoed Spencer het ‘n onderliggende hartprobleem en dat die narkose se teenmiddel moontlik tot hartversaking gelei het.
Spencer se ouderdom kon moontlik ook ‘n rol gespeel het. Hy was reeds ongeveer 22 jaar oud.
Hern, wat ontsteld is oor Spencer se dood, sê stropers veroorsaak ‘n moeilike situasie, aangesien teenstropingsbehandeling narkose vereis, wat in sommige gevalle ‘n risiko vir die dier kan inhou.
‘n Nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die presiese oorsaak van die renoster se dood vas te stel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA