Rekenaarmark verander drasties
2012-12-12 11:57
San Francisco – Die rekenaarmark se beweging in die rigting van slimfone en tabletrekenaars het in 2012 behoorlik momentum gekry, wat rekenaarvervaardigers gedwing het om aan te pas by die era van die mobiele internet.
"Tabletrekenaars sal nie persoonlike rekenaars vervang nie," het Frank Gillett, 'n ontleder by die maatskappy Forrester Research, gesê.
"Tabletrekenaars sal hulle dwing om te verander."
Rob Enderle, 'n analis van die Enderle-groep, stem saam.
"Ek dink nie die persoonlike rekenaar gaan verdwyn nie," het hy gesê.
"Wat duidelik is, is dat ons deur 'n deurmekaar tyd gaan; die mark verander saam met die nuwe produkte."
Terwyl gebruikers toenemend tablet- en skootrekenaars verkies wanneer hulle rondbeweeg, sal hulle steeds groter rekenaars met meer verwerkingskrag vir "regte werk" nodig hê, meen analiste.
"Jou tabletrekenaar kan so baie doen dat minder mense nou skootrekenaars nodig het, maar wanneer jy by jou persoonlike rekenaar kom soek jy iets wat heeltemal anders is as jou tabletrekenaar," het Gillett gesê.
"Ek dink ons sal eindelik sien dat persoonlike rekenaars herontwerp word."
"Wat op die ou end gaan gebeur, is dat die skootrekenaar en persoonlike rekenaar herontwerp sal word vir 'n tablet-wêreld."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP