'Regering moet meer doen vir groen'
2011-02-12 14:51
Johannesburg - Hernubare energie-organisasies het 'n beroep op die regering gedoen om fermer te wees in sy verbintenis tot energiebesparing.
President Jacob Zuma het Donderdag in sy staatsrede gesê die regering is verbind tot energie-besparing en dat die regering vanjaar gaan begin om energie van hernubare bronne aan te koop.
'n Verteenwoordiger van die Volhoubare Energievereniging in Suid-Afrika, Irvan Damon, sê hulle verwelkom die aankondiging, maar méér pro-aktiewe optrede is nodig.
Hy sê dit is belangrik om te begin dink aan groen ekonomiese bemagtiging, sogenaamde groen-boordjie werkgeleenthede en om meer mededingend op internasionale gebied te wees.
Intussen maak Durban gereed om in November vanjaar die Verenigde Nasies-konferensie oor klimaatsverandering aan te bied.
Damon sê die regering behoort 'n leier in die konstruksiebedryf te wees deur eko-vriendelike huise te bou.
Hy sê in nuwe huise behoort 80 persent van huishoudelike waterverhiting van sonenergie afkomstig te wees eerder as van konvensionele energiebronne.
Volg Nuus24 op Twitter.
- RSG