Radiohead klim die groot vuurmuur van China uit
2011-07-04 17:02
Shanghai – Die Britse rockgroep Radiohead is lankal krities teenoor China se beweerde menseregteskendings en die groep toets nou die land se geduld op die Chinese sosiale netwerk Sina Weibo.
Tienduisende mense het die amptelike Radiohead-profiel sedert sy verskyning Vrydag op die sosiale netwerk Sina Weiba begin volg.
Die sosiale netwerk is China se grootste mikroblogdiens – Twitter word daar geblokkeer.
“Ons toets die Weibo,” lui die profiel se eerste en enigste boodskap. "Weibo" beteken mikroblogdiens in Chinees.
Meer as 10 000 mense het dié boodskap weer aan hulle volgelinge oorgedra en die profiel het sodoende teen Maandag 60 000 volgelinge gehad.
“Ek wens ek kon julle in my leeftyd sien,” het een aanhanger geskryf.
‘n Toer in China is egter onwaarskynlik, aangesien die regering enige musiekgroep moet goedkeur voor hulle mag optree.
‘n Amptelike goedkeuring is ook onwaarskynlik vir dié groep van Oxford, aangesien hulle reeds kwessies soos die vryheid van Tibet aangeroer en hul stem dik gemaak het om die lof van die Chinese aktivis Liu Xiaobo te besing.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP