Radioaktiewe mynwater maak dalk seekoeie blind
2010-07-01 10:26
Die Burger
Johannesburg - Twee seekoeie wat al vir agt jaar in radioaktiewe suur mynwater in die Krugerdorpwildtuin bly, is vermoedelik blind en sal dalk van kant gemaak moet word.
Só het Brenda Santon, bestuurder van die wildeenheid van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) in ’n e-pos aan Louise Joubert, eienaar van die rehabilitasiesentrum Sanwild naby Gravelotte in Limpopo, geskryf.
Dié e-pos is aan Joubert gerig nadat sy (Joubert) aangebied het om die twee seekoeibulle te laat vang en op haar koste na Sanwild te bring.
Santon het egter vasgeskop en gesê die diere is vermoedelik blind (weens die suur mynwater) en sal moontlik van kant gemaak moet word.
Hul gesondheid is waarskynlik reeds in só ’n mate deur die water aangetas dat hulle nie ’n verskuiwing sal kan oorleef nie, het Santon bygevoeg.
Sy het Woensdag bevestig sy weet reeds langer as ’n jaar van die seekoeie wat in die mynwater leef, maar dat hul kantoor in Johannesburg die saak glo moes ondersoek. Die ondersoek het vermoedelik doodgeloop, maar is na bewering verlede week hervat.
Volgens Santon het die NDBV verlede week inspeksie by die Krugerdorpwildtuin gedoen en is die raad “bekommerd” oor ál die wild.
“Die seekoeie word die ergste geraak omdat hulle die grootste deel van die dag in die dam deurbring en aan die mynwater blootgestel is.
Die NDBV het na foto’s van die diere gekyk en meen die mynwater het moontlik reeds hul oë aangetas.
Volgens Santon sal dit dus nie raadsaam wees om die diere na ’n vreemde omgewing te skuif as hulle nie behoorlik kan sien nie.
“Ons sal beslis nie wil sien dat die seekoeie onbepaald in die suur mynwater bly nie.”
Joubert het gesê dit is ’n skande dat die NDBV reeds sedert die begin van verlede jaar weet van die swak omstandighede waaronder die diere in die wildtuin moet oorleef en nog niks gedoen het nie.
Sy het bygevoeg sy sal “alles in haar vermoë” doen om die seekoeie na Sanwild te bring.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger