Pynmiddel tydelik aan mark onttrek
2012-02-03 07:01
Kaapstad – Die pynmiddel Excedrin is tydelik aan die mark onttrek omdat die gevaar bestaan dat ander middels dalk daarin kon beland het.
Enigiemand wat in besit is van dié middels, waarop daar ’n vervaldatum van 2013 of vroeër op die houer is, word versoek om dit in die oorspronklike houer terug te neem na die plek waar hulle dit gekoop het.
Dit sluit houers vir 24 en 50 pille in. Excedrin is oor die toonbank beskikbaar en word normaalweg vir hoofpyn gebruik. Dit bevat parasetamol, aspirien en kafeïen.
Luidens ’n verklaring van Novartis Suid-Afrika is dit ’n voorkomende besluit nadat verbruikers gekla het dat van die pille gebreek en versplinter is, asook probleme met bottelverpakkings in Lincoln, Nebraska.
Dit kon daartoe gelei het dat ander medikasie in die verpakking beland het.
Die maatskappy het gesê hy is nie bewus van enige negatiewe gevolge of voorvalle wat hiermee verband hou nie. Mense word versoek om nie die betrokke middel voor die vervaldatum (2013) te neem nie, omdat dit tot ernstige gevolge kan lei as daar ’n ander middel in is.
Novartis het gesê hy sal vervaardiging hervat en die produk sal later weer op die rakke wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger