Program sê as Facebook-pêlle bande verbreek
2012-02-02 08:55
Johannesburg – ’n Nuwe aanlynhulpmiddel stel jou nou in staat om te sien wanneer iemand sy Facebook-vriendskap met jou beëindig.
Die Britse Daily Mail berig die Unfriend Finder-program kan op die meeste internetblaaiers geïnstalleer word.
Dit is egter nie op selfone beskikbaar nie.
Facebook stel jou nie daarvan in kennis as iemand besluit om op dié sosiale netwerk bande met jou te verbreek nie.
Unfriend Finder kan ook gebruik word om vas te stel of iemand jou vriendskapsversoek geïgnoreer het.
Sowat 44 miljoen mense het die program al afgelaai.
Die program se gewildheid het al heelparty tegniese probleme veroorsaak.
Volgens Unfriend Finder se webtuiste kan jy die program eenvoudig deaktiveer as jy té depressief raak oor die inligting wat dit verskaf.
As Facebook sy webtuiste-kode verander – wat hy buitendien gereeld doen – sal Unfriend Finder nie meer werk nie.
Unfriend Finder is beskikbaar by www.unfriendfinder.com en kan gratis afgelaai word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger