Probeer gou weer ná miskraam
2010-08-07 01:11
Parys – Vrouens wat binne ses maande ná ‘n miskraam weer swanger raak, het ‘n groter kans om hul baba die volle termyn te dra as vrouens wat langer wag.
Volgens ‘n onlangse studie, is hul kans op nog ‘n miskraam skraler.
Daar is ook ‘n groter moontlikheid dat hulle natuurlik sal kan geboorte skenk en dat die babatjie nie vroeggebore, of ondergewig sal wees nie.
Die bevindinge, wat in die British Medical Journal gepubliseer is, is teenstrydig met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en sal na verwagte as kontroversieel geag word.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) stel voor dat vrouens wat ‘n miskraam gehad het, ten minste ses maande wag voor hulle weer probeer swanger raak.
Die mees onlangse studie is gelei deur Sohinee Bhattacharya van die Aberdeen Maternity Hospital in Skotland.
Hulle het die studie gebaseer op die mediese geskiedenis van 30 000 vrouens wat na 'n miskraam, tussen 1981 en 2000 weer swanger geword het.
Die gevolgtrekking was dat dit nie nodig is vir vrouens om ses maande te wag voor hulle weer probeer swanger raak nie.
Sosio-ekonomiese faktore het ook nie ‘n beduidende rol gespeel nie.
Hulle het wel gevind dat probleme met swangerskap meer van ‘n faktor is by meer welgestelde vrouens wat oor die algemeen langer wag om swanger te word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA