Sosiale netwerke: privaatheid raak al minder
2011-06-12 09:05
Met die spoed wat privaatheid ’n luukse op sosiale netwerke word, kan daar binnekort baie meer rooi gesigte soos dié van Anthony Weiner wees.
Weiner, ’n Demokratiese kongreslid van Amerika, het onwelvoeglike foto’s van homself aan jong vroue op Twitter gestuur.
Weiner moes die afgelope week, ná heftige ontkennings vroeër, tranerig erken dat dit wel hy (of eerder syne) op die foto’s is.
Op een van die foto’s, wat hy glo aan ’n vrou gestuur het, het hy homself kaal afgeneem waar hy op ’n bed lê. Daar is ook verskeie foto’s van hom in sy onderklere wat hy deur Twitter aan spesifieke vroue gestuur het.
Die polisie het boonop dié naweek ’n 17-jarige meisie begin ondervra oor haar beweerde kontak met Weiner.
Die kongreslid ontken dat hy ook eksplisiete of onwelvoeglike kommunikasie met haar gehad het.
Maar Weiner se petalje het weer eens bewys hoe min privaatheid ’n mens regtig op sosiale netwerke het, berig die Huffington Post.
Weiner word, net soos ander hooggeplaastes, al die laaste paar maande deur sy vyande gefynkam en geoordeel aan nie net wat hulle twiet nie, maar ook wie hulle volg.
Dié groep konserwatiewes het gou uitgewys (en getwiet) dat die kongreslid skynbaar ’n voorliefde vir jong vroue het omdat hulle die meerderheid van sy sosiale “kontakte” verteenwoordig.
The Boston Globe het ook onlangs berig oor ’n universiteitsprojek waarin studente deur ontleding van ’n mens se Facebook-profiel met redelike sekerheid kan vasstel of iemand gay is of nie.
Dit is ook nie net inligting wat ’n ellelange dataspoor agterlaat wat nagevolg word nie. Jou blote voorkoms kan binnekort jou geheime verklap.
Facebook is onder skoot weens sy nuutste gesigherkenningsagteware wat mense in staat stel om hul vriende op foto’s te merk (“tag”).
Dié program word reeds die laaste ses maande in die VSA gebruik en is nou al in die meeste lande beskikbaar, maar nog nie vir Suid-Afrikaanse gebruikers nie.
Die program gebruik ’n databasis van foto’s om outomaties te sien watter gesigte dit herken en maak dan sekere voorstelle vir die gebruiker wat die foto oplaai.
Graham Cluley van die aanlyn-veiligheidsmaatskappy Sophos maak beswaar daarteen dat dié program outomaties vir alle gebruikers in werking gestel word totdat hulle dit in hul privaatheidopsies deaktiveer.
“Baie mense voel erg ongemaklik dat ’n webwerf soos Facebook leer hoe jy lyk en dan dié inligting sonder jou toestemming kan gebruik,” skryf hy op sy blog.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport