Presies hóé erg is jou Facebook-verslawing?
2011-07-27 10:44
New York – Die lees van eensame hulpkrete en besope uitlatings op Facebook het al menige werker se produktiwiteit by die werk, of sosiale lewe by die huis, negatief beïnvloed – en nou stel 'n nuwe diens jou in staat om te sien presies hoe erg dié verslawing is.
Voyurl is ‘n nuwe inpropprogram wat gebruikers in staat stel om te sien hoeveel ure hulle op spesifieke webtuistes deurbring.
Die program sit ‘n lys van webblaaie wat die gebruiker gereeld besoek netjies uiteen om die gebruiker presies te wys waar hy sy tyd aanlyn deurbring.
Gebruikers wat Voyurl installeer sal kan sien hoeveel tyd hulle op elke blad deurbring, en die program hou ook dop waar jy vassteek om meer te lees of na wie se foto’s daar meestal gestaar word.
“Jy kyk na jouself in ‘n spieël wat jy nie geweet het bestaan nie,” het die stigter Adam Leibsohn gesê.
“'n Mens sê: ‘Ag, ek het nie geweet ek is so baie op Facebook nie,’” het hy bygevoeg.
Voyurl is tans slegs as ‘n B-weergawe, of voorvrystellingsweergawe, hier beskikbaar.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.