Porno-SMS laat vroue warm onder die kraag
2011-05-31 08:59
Oos-Kaap – 'n SMS met 'n skakel na 'n pornografiese webwerf het verlede Donderdag veroorsaak dat sommige vroue in Port Elizabeth hul gades se lojaliteit in hul huwelike bevraagteken, het Dispatch Online berig.
Die SMS het die naam van die ontvanger ingesluit en lees: "Hi (Naam), jy het 1 nuwe boodskap van Cindy in Richmond Hill. Kliek hier om jou boodskap te lees."
'n Verslae vrou, wat anoniem wou bly, het gesê haar man het Donderdagaand 'n SMS gekry en omdat hulle naby Richmond Hill woon, het sy aangeneem hy ken die vrou wat in die SMS genoem word.
"Ek was baie omgekrap toe ek na die webwerf gaan en al die pornografiese foto's sien. Ons het in 'n argument betrokke geraak en dit het amper ons huwelik verwoes.
"Ek het myself aan die slaap gehuil oor die hele ding. Ek het gedink hy het 'n buite-egtelike verhouding. Ek wil weet wie die SMS gestuur het en hoekom," het sy gesê.
Meer as 100 lesers op The Herald se Facebook-blad het ook bevestig dat hulle dié SMS gekry het.
Annette Hobschle, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), het gesê selfoonverwante misdade is besig om toe te neem en selfoongebruikers moet hulself beskerm deur nie op webskakels te kliek wanneer hulle vals SMS'e of e-posse ontvang nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA