Planklê-gier pak Kapenaars behoorlik
2011-06-14 09:03
Kaapstad - Planklê (oftewel “planking”), die jongste gier wat sosiale netwerke wêreldwyd aan die gons het, het nou ook vastrapplek in die Wes-Kaap gekry.
Sedert Die Burger op 13 Mei oor dié gier berig het, is die Facebook-groep Western Cape Planking gestig.
’n Tweede landwye Facebook-groep, Planking South Africa, het ook in dié tyd die lig gesien.
Dié ondersteunersgroep het gister amper 600 lede gehad terwyl Western Cape Planking met 126 aanhangers spog.
Volgens Zana Kuhn (23), die stigter van die Wes-Kaapse Facebook-groep, is planklê ’n uitstekende manier om mense te ontmoet omdat dit aan sosiale netwerke gekoppel is.
Maar planklê se aantrekkingskrag strek verder as dít.
Dis beslis ’n manier om ’n statement te maak. Dié wat planklê, doen dit omdat hulle hul nie na die samelewing wil skik nie, het Kuhn gesê.
“Dié wat gekant is teen planklê, voel dat planklêers hul juis na die samelewing wil skik.”
Kobus de Wet (23), ’n BSc-student aan die universiteit van Stellenbosch, het gesê hy geniet planklê omdat dit pret is om ná die tyd na die foto’s te kyk.
“Dit is snaaks om mense in so ’n vreemde posisie te sien lê op plekke waar hulle gewoonlik sou staan. Dit is ook lekker om saam met vriende te plank.”
Western Cape Planking het ook met ’n veldtog begin om Riaan Cruywagen te oorreed om tydens sy 19:00-nuusbulletin op SABC2 op sy nuuslessenaar plank te lê.
By navraag het Cruywagen gesê hy het nog nooit van planklê gehoor nie en hy het geen idee wat dit is nie.
“Ek is nie eens op Facebook nie,” het Cruywagen gesê.
De Wet het gesê hulle gaan wag dat die Riaan Cruywagen-veldtog baie ondersteuners het, voordat hulle Cruywagen met ’n versoek nader.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger