Pikkewyntjie swem 1 600 km in maand
2011-07-27 09:20
Johannesburg – Lucy, ’n jong brilpikkewyn wat met die hand grootgemaak is, het binne die eerste maand ná haar vrylating by Kaapstad meer as 1 600 km ver langs die weskus opgeswem.
Teen eergister was sy al verby Kaap Kruis, sowat 150 km noord van Walvisbaai aan die Namibiese kus.
Lucy is die eerste van vyf brilpikkewynkuikens wat met sendertjies toegerus is waarmee hul bewegings gemonitor word.
Volgens Les Underhill van die Universiteit van Kaapstad se eenheid vir dieredemografie (ADU) wil wetenskaplikes van die ADU, die rehabilitasiesentrum Sanccob en die departement van omgewingsake daardeur ’n groot leemte in hul kennis van dié pikkewynsoort probeer vul.
Hulle weet bitter min van wat brilpikkewyne doen vandat hulle die nes verlaat totdat hulle twee of drie jaar later begin broei. Dié kennis kan hulle help met ’n projek wat die brilpikkewyne se toekoms kan verseker.
Pikkewynkuikens wat dit nie in die natuur sou oorleef nie, word met die hand grootgemaak en dan in die natuur vrygelaat sodat hulle bestaande kolonies se getalle kan aanvul.
Die moontlikheid bestaan selfs dat nuwe pikkewynkolonies gevestig kan word op plekke waar hul kosvoorraad nog goed is.
Een van die pikkewyne se dilemmas is juis dat van die vis waarop hulle staat-maak, ooswaarts teen die Kaapse kus opgetrek het tot buite bereik van die bestaande kolonies.
Underhill het gesê die vestiging van nuwe kolonies lê nog ver in die verskiet, maar hulle probeer die struikelblokke een vir een uit die pad rol.
Lucy is besig om hulle daarmee te help.
Intussen is nog twee pikkewyne, Richie en Nicky, ook al vrygelaat en hul bewegings word ook dopgehou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld