Perde met kolle bestaan duisende jare gelede
2011-11-08 11:05
Washington – ‘n Internasionale span navorsers het Maandag gesê hulle het die eerste bewyse gevind vir die bestaan van perde met kolle.
Dit beteken kunstenaars uit die oertyd het geverf wat hulle gesien het en was nie, soos voorheen beweer, abstrakte skilders nie.
Die navorser Melanie Pruvost van die Duitse Argeologiese Instituut in Berlyn was die hoofnavorser van die studie en die bevindinge is in die joernaal Proceedings of the National Academy of Science gepubliseer.
Die navorsers het die beendere en tande van meer as 30 perde in Siberië en Europa, wat uit sowat 35 000 jaar gelede dateer, bestudeer en gevind ses van die perde het ‘n geen, verbind met die vlekke op vandag se perde, met hul hedendaagse nasate in gemeen.
“Daar was tot nou toe die vraag of kolle op perde op oertydse grotkuns simbolies of abstrak is, veral omdat meeste navorsers kolle op oerperde onwaarskynlik geag het,” het Terry O'Connor van die universiteit van New York gesê.
“Ons navorsing bewys egter die teenoorgestelde: grotskilders van die oertyd het geskilder wat hulle gesien het.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA