Pasop vir die kwik in jou vis
2010-02-01 08:50
Jorisna Bonthuys
Kaapstad - Bestaansvissers, swanger vroue en jong kinders wat gereeld vis eet, word dalk onwetend blootgestel aan hoë kwikvlakke wanneer vis wat daarmee besmet is, geëet word.
Navorsing toon dat kwikvlakke in sekere visspesies soos die rooi roman, rooi panga en silwervis die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne hiervoor (0,2 mikrogram kwik per gram visweefsel) oorskry.
Die hoogste kwikkonsentrasies wat by plaaslike visbevolkings aangetref is, was in Valsbaai, Kalkbaai en Yzerfontein. Dit is volgens die WNNR se voorlopige resultate in die jongste uitgawe van hul kwartaalblad, ScienceScope.
As die Amerikaanse standaarde vir die inname van vis, soos deur die Environmental Protection Agency daargestel, sou geld, en met die kwikvlakke wat tot dusver bespeur is in ag geneem, behoort ’n mens minder as twee keer per maand rooi roman en rooi panga te eet.
Kabeljou en silwervis kan vier keer per maand genuttig word en geelstert agt keer. Snoek en harders kan 16 keer per maand geëet word.
Die navorsing oor kwikvlakke in vis is ’n belangrike aspek van die groter Suid-Afrikaanse Kwikontledingsprogram (Sama) wat in 2006 begin is en waarin die impak van kwik op die omgewing en menslike welstand ondersoek word.
Mamopeli Matooane, ’n WNNR-navorser gemoeid met dié studie, sê nóg navorsing hieroor is nodig. Kwikbesoedeling van visbronne is wêreldwyd ’n probleem, maar, anders as in ander wêrelddele, is daar nie plaaslike riglyne vir die eet van vis waar gesondheidsrisiko’s in berekening gebring word nie.
Amerikaanse omgewingsowerhede waarsku dat byna alle vis en skulpvis spoorelemente van kwik kan bevat en dat jong kinders en swanger vroue se inname daarvan daarom dopgehou moet word.
Kwik kom natuurlik in die omgewing voor en word weens menslike bedrywighede soos nywerheidsprosesse en mynbou vrygestel.
Van die kwik beland in strome en die oseane, en word in sediment omgeskakel in ’n meer skadelike organiese vorm genaamd metielkwik. Visse absorbeer hierdie metielkwik en stoor dit in veral hul vetweefsel.
Matooane sê die resultate beteken nie dat mense moet ophou om vis te eet nie, maar dat hulle bedag moet wees om die gereelde eet van visbevolkings wat hoë konsentrasies van metielkwik in hul weefsel toon, te monitor.
Jou kwesbaarheid vir kwikbesoedeling word onder meer beïnvloed deur hoe lank jy daaraan blootgestel word en watter dosisse jy daarvan inneem.
Besoek epa.gov/hg/health.htm en csir.org.za vir inligting.
- Die Burger