Pas ontdekte slang bedreig
2012-01-11 07:01
Kaapstad – Matilda, ’n horingsman-adder, is so pas ontdek, maar sy en haar soort word reeds as kritiek bedreig bestempel.
Dié spesie, genaamd Atheris matildae, kom diep in ’n woud in Tanzanië voor.
Die navorsers wat dit ontdek het, hou die gebied geheim om die slange uit die kloue van onwettige troeteldierversamelaars en ander nuuskieriges te hou, omdat die bevolking klein en kwesbaar is.
Dr. Tim Davenport, direkteur van die Natuurlewe-bewaringsvereniging (WCS) in Tanzanië en mede-ontdekker van die slang, het die spesie na sy dogter, Matilda, genoem.
Volgens ’n verklaring van WCS is die habitat van Matilda net ’n paar vierkante kilometer en die gebied is reeds kwesbaar weens bosboubedrywighede en steenkoolmyne.
Die onwettige handel in diere is een van die grootste bedreigings vir talle spesies ter wêreld, nie net reptiele nie, het die WCS gesê.
Davenport het gesê daar is met ’n klein telingsprogram begin in ’n poging om die getalle van die horingsman-adder te verhoog.
Dié adder is sowat 60 cm lank en het horingagtige skubbe bokant die oë.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger