Pandas paar hopelik binnekort
2011-02-02 22:39
Washington – Twee reuse-pandas van die nasionale dieretuin in Washington word fyn dopgehou om te sien of dié tweetjies suksesvol sal paar.
Die wyfie, Mei Xiang, is slegs vir ‘n paar dae elke jaar vrugbaar en die paringsritueel tussen haar en haar lewensmaat, Tian Tian, sorg tans vir groot opgewondenheid by die dieretuin.
Die paartjie dink dalk hulle bymekaarkoms is privaat, maar versteekte kameras beloer elke beweging.
Twee weke gelede het Mei Xiang die kenmerkende geluide van ‘n wyfie op hitte begin maak, wat die dieretuin gewaarsku het dat die tyd aangebreek het.
Mei Xiang en haar maat, Tian Tian, is al sedert 2000 saam en sy het reeds een pandawelpie by hom gehad.
Dit was egter met die hulp van wetenskap dat sy dragtig geraak het en nié Tian Tian se pogings nie.
Dié jaar hoop die dieretuin dat Tian Tian dit natuurlik sal regkry en die twee se paring suksesvol sal wees.
Intussen monitor wetenskaplikes Mei Xiang se hormoonvlakke en staan veeartse gereed net ingeval die stres te veel word en hulle te aggressief raak met mekaar voor hulle kan paar.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP