Pandas nie bedreiging vir seekat Paul se roem
2010-11-16 11:34
Guangzhou – Eers was daar Paul die seekat, nou is daar Bo Si en sy panda-familie.
Bo Si, een van 12 'siener' pandas, het ‘n Chinese atleet gekies om die eerste wenner van ‘n goue medalje by die Asiatiese Spele te wees, en Yuan Xiaochao het dié medalje gewen.
Maar gegewe die feit dat die magtige China in elk geval die gunstelinge is om medaljes te wen, en boonop die grootste deelnemende span het, meen kritici dit is moeilik om Bo Si en Kie se telepatiese vermoë te bewys.
Daar word verwag dat die pandas gaan help om meer toeriste na die Xiangjiang Safari Park in Guangzhou te lok.
“Die pandas het sover net Chinese atlete as wenners gekies,” het die China Daily van die 12 pandas gesê wat gebruik word om die uitslae te voorspel.
Paul die seekat het bekend geword tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi toe hy die wenners van elke wedstryd reg voorspel het.
Paul het egter verlede maand by ‘n akwarium in Duitsland gesterf.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP