Pandas al hoe meer bedreig
2009-08-17 09:37
Beijing – China se reuse-panda kan binne twee tot drie generasies heeltemal uitgewis wees weens die groeiende ekonomiese ontwikkeling wat hulle bestaan al hoe meer bedreig, meen ‘n kenner van die Wêreldnatuurfonds (WWF).
Die probleem ontstaan omdat die pandas se habitat kleiner word en dit moeiliker raak vir die diere om vry rond te beweeg en na maats te gaan soek om mee aan te teel, het die Global Times berig.
"As dié pandas nie met pandas van ander habitatte kan paar nie, is die kanse tot uitwissing binne die volgende twee tot drie generasies baie groot," het Fan Zhiyong, direkteur vir WWF se program van Beijing-gebaseerde spesies, gesê.
"Ons moet nóú iets daaraan doen.”
Die risiko van inteling word ook groter. Dit bedreig die pandas se weerstand teen siektes en verminder hulle kanse tot voortplanting, het die koerant berig.
- Sapa-AFP