Pakistan blokkeer Twitter oor kompetisie
2012-05-20 21:02
Islamabad – Pakistan het Sondag Twitter geblokkeer weens ‘n kompetisie om karikature van die Profeet Mohammed op die sosiale netwerk te deel, het beamptes aan AFP gesê.
“Die webwerf is verban deur die Ministerie van Informasietegnologie en die besluit is aan ons oorgedra. Daar was lasterlike materiaal op Twitter,” het Mohammad Younis Khan, woordvoerder van die Pakistan Telekommunikasie Owerheid (PTA) gesê.
Gevra oor die aard van die “lasterlike” inhoud, het Khan gesê daar was ‘n beplande kompetisie om “karikature van Profeet Mohammed te deel”.
Die Dawn-koerant het gesê die betrokke materiaal het ‘n kompetisie op Facebook gepromoveer wat die deel van prente van die Profeet behels het.
Volgens die koerant het Facebook ingestem om besorgdhede oor die kompetisie aan te spreek, maar Twitter wou nie saamwerk met die PTA se versoek om die inhoud te verwyder nie.
“Beamptes van die ministerie probeer hulle nog sover kry om in te stem en sodra hulle daardie dinge verwyder, sal die webwerf nie meer geblokkeer wees nie,” het Mohammad Yaseen, voorsitter van die PTA, aan die koerant gesê.
Enige uitbeelding van enige profeet word streng in Islam verbied en word as lasterlik beskou. Moslems oor die wêreld heen het woedend betoog oor satiriese spotprente van Mohammed in Europese koerante vier jaar gelede.
‘n Selfmoord-bomaanval buite die Deense ambassade in Islamabad in 2008 het die lewens van agt mense geëis. Al-Kaïda het gesê die aanval was in weerwraak op die publisering van die spotprente.
‘n Hof in Pakistan het Facebook in 2010 geblokkeer weens ‘n soortgelyke kompetisie wat deur ‘n anonieme Facebook-gebruiker georganiseer is. Dié kompetisie het mense gevra om die Profeet te teken om “vryheid van uitdrukking” te ondersteun.
Die kompetisie het groot opslae in die konserwatiewe Moslem-land gemaak, waar selfs gematigde Moslems die tekeninge diep aanstootlik gevind het.
In daardie jaar is Facebook vir byna twee weke geblokkeer ná ‘n petisie deur ‘n groep Islamitiese prokureurs. Die PTA het YouTube ook vir ‘n week verban en toegang tot ander webwerwe soos Wikipedia beperk weens “toenemende lasterlike” inhoud.
Die regering het toe gesê dit sal groot webwerwe monitor vir anti-Islamitiese inhoud.
- Volg Nuus24 op Twitter
- AFP