Ouers raadpleeg graag internet oor kinders se kwale
2011-10-21 22:05
Boston – Een uit agt ouers soek aanlyn antwoorde oor hul kinders se mediese toestand voor hulle die jongspan dokter toe neem, het navorsers bevind.
Ouers is ook bereid om webblaaie wat pediaters goed aanskryf te besoek om meer oor hul kinders se gesondheid te leer.
Meer pediaters moet dus bereid wees om advies oor die onderwerp te kan gee, het die navorser Purvi Shroff van die Universiteit van Louisville in Amerika gesê.
Shroff en haar span navorsers het 240 ouers met internettoegang by ‘n nasionale konferensie van die American Academy of Pediatrics in Boston ondervra.
Hulle het bevind 12% van ouers het eers op die internet antwoorde gesoek voor hul na die dokters se spreekkamer gejaag het.
“Om gewillig te wees om meer oor jou kind se gesondheid te leer, is altyd goed,” het Shroff gesê.
“As dit by die internet kom, hang dit egter af of die inligting wat jy opsoek goed nagevors is.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters