Ouers ‘móét weet van gevare in die kuberruim’
2010-11-25 07:18
Die Burger
Pretoria - Leerders is baie bedrewe om inligtingstegnologie, soos selfone en die internet, te gebruik, maar min is toegerus om gevare soos kuberboeliery te hanteer.
Sara Mocke, ’n argitek by Microsoft, het Woensdag op ’n kongres oor kuberveiligheid by Unisa gesê kinders is so oningelig oor kubergevare dat hulle selfs persoonlike inligting soos foto’s en GPS-koördinate oor waar hulle bly maklik sal bekend maak.
In die lig van die soorte webtuistes wat tieners besoek, gee hulle as’t ware ’n “inkopielys” vir roofsugtiges as hulle persoonlike inligting bekend maak.
Mocke het gesê al hoe meer mense – leerders ingesluit – gebruik slimfone wat hulle toegang tot allerlei webtuistes gee. “Die fone is baie magtiger as rekenaars en min mense besef wat die enorme risiko’s vir ander mense is as daardie fone byvoorbeeld gesteel word.”
In die hande van die verkeerde persone kan mense se identiteit nie net gesteel word nie, maar misdade soos ontvoering en verkragting kan ook geïnisieer word.
Mocke het daarop gewys dat tot 73% van die 543miljoen Facebook-gebruikers nog nooit die veiligheidsmerkers gebruik het nie. Ouers het ’n verantwoordelikheid om hul kinders te leer wat die gepaste gebruik van alle tegnologie is. “Nog tegnologie gaan nie die huidige probleme rondom veiligheid oplos nie; mense se gedrag wel.”
Stephan Potgieter van Privacy Online, ’n kenner op die gebied van kuberboeliery, het gesê mense sluit hul huise en motors vir veiligheid, maar besef om een of ander rede nie die noodsaaklikheid daarvan om hul rekenaars te beveilig nie.
Een van die dilemmas is dat ouers nie met hul kinders oor veilige gebruik van rekenaars en selfone praat nie, wat tot gevolg het dat baie kinders slagoffers van boeliery word wanneer ander tegnologie gebruik om hulle te verneder en seer te maak, het hy gesê.
In die navorsing wat gedoen is, is bevind kinders sien kuberboeliery as vermaaklik en hulle doen dit as hulle verveeld is of om iemand terug te kry.
Potgieter het daarop gewys dat kuberboeliery erger as fisieke boeliery kan wees omdat kinders nie kneusplekke het om te wys nie.
Voorbeelde van kuberboeliery is die verspreiding van gerugte oor ’n persoon, deelname aan peilingswebwerwe wat mense in ’n negatiewe lig stel, verspreiding van vernederende videogrepe en die stuur van haatboodskappe.
Prof. Basie von Solms van die akademie vir informasietegnologie aan die Universiteit van Johannesburg het gesê bewusmaking van gebruikers oor veiligheid is een manier om kuber misdaad te verminder.
Die regering het egter ook ’n groot plig om veiligheidswetgewing in te stel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger