Oudste manlike panda vrek in Berlyn
2012-08-22 22:45
Berlyn – Die oudste manlike panda in die wêreld, ‘n geskenk van China aan die voormalige Duitse kanselier Helmut Schmidt, is in Berlyn op 34-jarige ouderdom dood.
Bao Bao, die laaste panda in Duitsland, was ‘n geskenk van die Chinese kommunistiese leier Hua Guofeng aan Schmidt in November 1980.
Die panda het saam met sy metgesel Tjen Tjen tot haar dood in 1984 gebly en het van toe af alleen in Berlyn gebly, ten spyte van pogings om hom in 1991 in Londen met die panda Ming Ming te laat paar.
Tydens ‘n staatsbesoek van die Chinese, hierdie keer deur Li Peng in 1994, was nog ‘n panda vir die Berlynse-dieretuin belowe. Yan Yan het in 1995 aangekom.
Yan Yan en Bao Bao se pogings om te paar was ook onsuksesvol en Yan Yan is in 2007 dood op die ouderdom van 22.
Bao Bao is vroeg Woensdagoggend “rustig in sy slaap dood,” het die dieretuin bekend gemaak. ‘n Nadoodse ondersoek is onderweg om die oorsaak van die dood te bepaal.
“Bao Bao sal nooit vergeet word nie,” het Heiner Kloes, ‘n amptenaar by die dieretuin, gesê.
China is bekend daarvoor om pandas as diplomatiese geskenke aan ander lande te gee.
Daar is sowat 1 600 pandas in die natuur oor met sowat 300 wat wêreldwyd aangehou word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP