'Oorskakelingsfout' verlam BlackBerry-dienste
2011-10-13 07:03
Pretoria – BlackBerry-gebruikers in Suid-Afrika het Woensdag vir die derde agtereenvolgende dag geen toegang tot internetdienste gehad nie.
Research in Motion (RIM), die vervaardigers van BlackBerry, het Woensdag in ’n verklaring gesê ’n “sentrale oorskakelingsfout” in sy infrastruktuur het veroorsaak dat miljoene BlackBerry-gebruikers in Afrika, Europa, die Midde-Ooste, Indië, Brasilië, Chili en Argentinië sedert Maandagoggend geen of sporadiese toegang tot e-pos, die internet en BlackBerry Messenger (BBM) ondervind.
Vermoedelik word meer as 10 miljoen gebruikers op vier vastelande daardeur geraak.
“Die vertragings in BBM-boodskappe en webblaaiery is veroorsaak deur ’n sentrale oorskakelingsfout in ons infrastruktuur,” het RIM gesê. “Ons stelsel is ontwerp om met ’n fout outomaties na ’n rugsteun oor te skakel, maar die rugsteun-oorskakeling het nie gewerk soos dit moes nie.”
Dít beteken ’n fout het by een van RIM se sentrale bedieners ontstaan en dienste het nie, soos beplan is, outomaties na ’n bystand-bediener oorgeskakel nie.
“As gevolg hiervan het ’n groot data-agterstand ontstaan. Ons werk so vinnig as wat ons kan om die agterstand uit te wis en normale dienste te herstel. Ons vra om verskoning vir enige ongerief.”
Vodacom het sy kliënte intussen per SMS in kennis gestel dat BlackBerry-dienste waarskynlik tot vanoggend nie beskikbaar sou wees nie.
CNET News het Woensdag berig op sy webblad, news.cnet.com, gesê BlackBerry se netwerk-argitektuur werk anders as dié van ander slimfone deurdat alle e-posse en BBM-boodskappe deur BlackBerry se eie bedieners in netwerk-operasiesentrums wêreldwyd herlei word.
Die netwerk-argitektuur waarop ander slimfone, soos iPhones en Google se Android-fone, funksioneer, het nie sulke swakpunte nie.
RIM het geen aanduiding gegee van wanneer sy normale dienste weer beskikbaar sal wees nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld