Ontdekking toe foutiewe bedrading se skuld
2012-02-23 13:06
Washington – ‘n Europese eksperiment wat in September getoon het dat deeltjies vinniger as die spoed van lig beweeg, was weens ‘n probleem met die draadverbinding foutief, het die Amerikaanse joernaal Science Woensdag gesê.
“’n Swak verbinding tussen ‘n GPS-eenheid en ‘n rekenaar kan blameer word,” het die verslag op die Science Insider-afdeling op die vaktydskrif se webwerf gesê en het “bronne bekend met die eksperiment” aangehaal.
Die oorspronklike bevindinge het intrige en skeptisisme in die wetenskap-gemeenskap veroorsaak.
Indien die bevinding bevestig sou word, sou dit in teenstelling wees met Einstein se teorie van relatiwiteit wat al vir meer as ‘n eeu aanvaar word.
In eksperimente wat tussen die Europese organisasie vir kernnavorsing (Cern) in Switserland en ‘n laboratorium in Italië uitgevoer is, het die neutrino’s 60 nanosekondes vroeër aabgekom as die 2,3 millisekondes wat dit vir lig neem.
Die verslag in Science Insider sê die “verskil van 60 nanosekondes lyk asof dit van ‘n swak verbinding tussen ‘n kabel wat die GPS-ontvanger en ‘n elektroniese kaart in die rekenaar verbind, gekom het.
“Nadat die verbinding verbeter is en die tyd wat dit data neem om deur die lengte van die kabel te beweeg gemeet is, het navorsers gevind dat die data 60 nanosekondes vroeër as wat aanvaar is daar uitgekom het,” het die webwerf gesê.
“Aangesien hierdie tyd afgetrek word van die algehele tyd, kan dit verduidelik hoekom die neutrino’s vroeër daar aangekom het. Nietemin sal nuwe data nodig wees om hierdie hipotese te bevestig.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP