Omstrede internet-miljoenêr maak noodlanding
2013-01-28 09:35
Wellington – Die omstrede internetmiljoenêr Kim Dotcom het Maandag gesê hy moes 'n noodlanding met sy helikopter in 'n afgeleë gebied doen.
Dotcom, wat bekend is vir die regstryd oor sy vorige webwerf, Megaupload, het sy 280 000 Twitter-volgelinge deurgaans tevrede gehou met dramatiese boodskappe oor die noodlanding.
Hy het later foto's van homself gedeel, met die helikopter in die agtergrond.
"Geen grappies. Noodlanding in die middel van nêrens," het hy op Twitter geskryf, en bygevoeg: "Ek gaan laat wees vir aandete, skat. Brandstof het na nul geval met 'n waarskuwing oor lemspoed."
Die 39-jarige entrepreneur, wat onlangs 'n nuwe lêerdeel-webwerf bekend gestel het ná Megaupload deur owerhede gesluit is oor moontlike oortredings van kopieregwette, het later gesê die vlieënier het ontkoppelde bedrading by die brandstofmeter gevind.
Dotcom, wat op borgtog vry is terwyl hy wag om te hoor of hy deur Nieu-Seeland aan die VSA uitgelewer sal word om tereg te staan op aanklagte wat verband hou met kopieregoortredings, het sy nuwe Mega-lêerdeeldiens op 20 Januarie bekend gestel.
Miljoene gebruikers het in enkele dae vir dié nuwe diens geregistreer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP