Aktiviste vas oor Eskom-protes
2012-10-23 15:16
Johannesburg – Die polisie het sewe omgewingsaktiviste aangehou wat by Eskom se Megawatt Park in Johannesburg betoog het, het Greenpeace gesê.
“Sewe van ons aktiviste is van die perseel verwyder,” het Fiona Musana, woordvoerder van Greenpeace, gesê.
Die aktiviste het hulle by die ingang van Megawatt Park vasgeketting om te betoog teen Eskom se voortdurende afhanklikheid van steenkool en hul besluit om vir 'n jaarlikse tariefverhoging van 16% vir die volgende vyf jaar te vra.
Die polisie het die betogers se kettings gesny, hulle geboei en hulle na die Sandton-polisiestasie geneem.
Die betogers het vroegoggend by die ingang opgedaag met ‘n banier wat sê dat Eskom nuwe bestuur gaan kry.
Eskom se voorgestelde tariefverhoging sal die prys van elektrisiteit van 61 c per kilowatt-uur in 2012/13 tot R1,28 per kilowatt-uur in 2017/18 opstoot.
Eskom het sy aansoek vir die tariefverhoging by Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien.
Die huidige multijaar-prysvasstellingsmodel eindig op 31 Maart 2013.
Nersa sal sy finale besluit in Februarie – ná 'n verlengde konsultasieperiode en openbare verhore – bekendmaak.
Greenpeace het gesê dat Eskom hernubare energiebronne moet begin oorweeg.
“Daar is al landswyd gevra dat Eskom moet kyk na hernubare hulpbronne. Hulle het dit geïgnoreer en aangehou om steenkool te gebruik,” het Makoma Lekalakala van Earthlife Africa en Greenpeace gesê.
Eskom he in reaksie gesê hy het dieselfde doelwitte as die betogers en het nie besware teen die vreedsame optrede nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA