Olifantkalf sterf ná hy van ma geskei word
2012-02-09 12:52
Harare – Bewaringsgesindes in Zimbabwe pogings om ‘n babaolifant wat op ‘n besige hoofpad van sy ma geskei is, se lewe te red, was onsuksesvol.
Die ses weke oue kalfie wat drie weke lank met die hand gevoer is, het vermoedelik aan longontsteking gesterf.
Die omgewingskenner Gordon Putterill sê dit is moeilik om olifante met die hand groot te maak.
Die kalfie is Kunda genoem, wat in Shona Triomf beteken, vir sy vasberadenheid om te oorleef nadat hy alleen op die hoofweg gevind is, het Putterill gesê. Hy is Woensdag dood.
Kunda se ma is vermoedelik deur ‘n vragmotor beseer nadat die trop van ‘n besige hoofweg vir vragmotors in die noordweste van Zimbabwe gevlug het. Dit is nie in hulle natuur om ‘n kalf agter te laat nie, het spoorsnyers gesê.
Die trop se spore het tot diep in die digte bos gelei wat etlike kilometers is van waar die kalf gevind is.
Kunda, wat se skouers slegs 80 cm breed was, het die harte van almal wat hom probeer red het geraak, het Putterill gesê.
Hy het meer as 20 kg opgetel in die tyd wat hy versorg is en het uiteindelik 100 kg geweeg.
Nietemin het hy diarree gekry, ten spyte van spesiale, voorgeskrewe sojamelk, aftreksels van palm- en kokosneutolie en nutriënte wat deur top-veeartse in Oos- en Suider-Afrika voorgeskryf is.
Die veeartse het wel gewaarsku dat dit skaars is vir ‘n babaolifant om sonder ‘n ma te oorleef.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA