Olifant boots menslike spraak na
2012-11-02 15:58
Seoel – ‘n Olifant in ‘n Suid-Koreaanse dieretuin gebruik nie net sy slurp om kos op te tel nie, maar ook om menslike spraak na te boots.
‘n Internasionale span wetenskaplikes het Vrydag bevestig wat die Everland-dieretuin al jare beweer.
Koshik, 'n olifant van 5,5 ton, het ‘n baie ongewone talent om woorde te kan namaak.
Die 22-jarige olifant kan vyf Koreaanse woorde “sê” deur sy slurp in sy bek te druk en dan die klank na
te boots, het die wetenskaplikes in ‘n verslag gesê.
Hulle beweer dat die olifant dalk die woorde begin naboots het omdat hy alleen was.
Koshik kan woorde soos “annyeong” (hallo), "anja" (sit), "aniya" (nee), "nuwo" (lê) en "joa" (goed) naboots.
Een van die navorsers het gesê dat daar geen bewysse is dat Koshik die betekenis van die woorde verstaan nie – tog reageer hy op woorde soos "anja" en "nuwo."
Die navorsers het gesê die enigste werklike bewys dat Koshik met opset menslike spraak probeer na-aap is omdat sy stem op dieselfde frekwensie as die van sy hanteerder is.
Dieretuin-amptenare in Kazakstan het in 1983 beweer dat ‘n olifant genaamd Batyr sowat 20 Russiese woorde kon naboots. Geen wetenskaplike navorsing is egter gedoen om hierdie bewering te staaf nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP