Obama sal nou self tweet
2011-06-18 22:02
Minneapolis - Pres. Barack Obama sal in die toekoms weer 'n meer aktiewe rol op Twitter vervul, het sy span gesê.
Die span agter pres. Obama se verkiesingsveldtog het Vrydag op die veldtog-webwerf gesê dat Obama dié mikroblogdiens gereeld sal gebruik, en dat sy persoonlike tweets met die letters "-BO" onderteken sal word.
Obama het vroeg Vrydagaand persoonlik 'n tweet uitgestuur en volgelinge verwelkom by 'n "nuwe @BarackObama. Van nou af sal #Obama2012-personeel hierdie profiel bestuur; tweets van die president sal met '-BO' onderteken word."
Volgens Obama se veldtogwebwerf sal die veranderinge "ons nuwe geleenthede gee om die meeste te maak van hierdie kanale, deur dit nie net te gebruik om verslag te lewer oor wat die president elke dag doen nie, maar ook om met die miljoene ondersteuners te skakel wat hierdie veldtog sal aandryf."
Obama het tans meer as 8.69 miljoen volgelinge op Twitter, wat hom die derde gewildste persoonlikheid op Twitter maak. Slegs die vermaaklikheidsterre Lady Gaga en Justin Bieber het meer volgelinge as hy.
– Kliek hier om Nuus24 op Twitter te volg, en kliek hier om Barack Obama te volg.
- Sapa - AP