Nuwe, vreemde spesies ontdek
2010-04-22 12:21
Kuala Lumpur –Sowat 120 nuwe spesies is op Borneo-eiland ontdek, insluitende ‘n longlose padda, die wêreld se langste insek en ‘n slak wat “liefdespyltjies” na sy maat skiet.
Die Wêreld-Natuurfonds (WWF) het die nuwe bevindinge in ‘n verslag oor die "Heart of Borneo", 'n digte, tropiese reënwoud op die eiland, gelys.
Onder die ontdekkings is ‘n 7cm lange platkop-padda , bekend as Barbourula kalimantanensis, wat in 2008 ontdek is.
Dié padda haal slegs deur sy vel asem en het glad nie longe nie.
Navorsers het in dieselfde jaar ook die Phobaeticus chani, die wêreld se langste stokinsek, hier gevind.
Dié gedierte is 35cm lank.
Slegs drie van die stokinsekte is nog ooit gevind.
‘n Ander interessante ontdekking is ‘n langstert slak wat “liefdespyltjies” van kalsiumkarbonaat gebruik om ‘n hormoon in sy maat in te spuit om die kanse van voortplanting te verbeter.
“Ons het gemiddeld drie spesies per maand ontdek en sowat 123 oor die laaste drie jaar; altesaam swoat 600 nuwe spesies in 15 jaar,” het Adam Tomasek, hoof van WWF se Heart of Borneo-inisiatief, gesê.
Maleisië, Indonesië en Brunei besit elk 'n deel van Borneo-eiland.
Die drie regerings het in 2007 die 220 000 vierkante kilometer area as die Heart of Borneo geklassifiseer in ‘n poging om die reënwoud te bewaar.
“Die nuwe ontdekkings wys die biodiversiteit op Borneo-eiland en die belofte van baie meer ontdekkings in die toekoms, wat uiteindelik kan help om siektes soos kanker en Vigs te genees,” het hy gesê.
Die Heart of Borneo-distrik is die tuiste vir 10 spesies primate, meer as 350 voëls, 150 reptiele en amfibiese diere en sowat 10 000 plante wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie, het die verslag gelees.
Die WWF het die regerings gevra om sensitief op te tree wanneer hulle die area se ekonomiese potensiaal ontwikkel.
- Sapa