Nuwe uitvoerende hoof vir Vodacom
2012-07-05 09:44
Johannesburg – Shameel Joosub is aangewys as die Vodacom-groep se nuwe hoof- uitvoerende beampte, het die maatskappy Donderdag aangekondig.
Joosub sal die leisels oorneem by Pieter Uys, wat besluit het om aan die einde van Maart uit te tree, het 'n verklaring gelui.
Joosub, voorheen die uitvoerende hoof van Vodafone in Spanje, sal op 1 September in sy nuwe pos begin werk.
Uys het bykans 20 jaar by Vodacom gewerk, en was vier jaar lank die groep se uitvoerende hoof.
"Ek wil namens die raad vir Pieter bedank vir sy vele prestasies in die vestiging van 'n uitmuntende onderneming.... Ons is dankbaar vir sy visie, leierskap en toewyding oor die laaste twee dekades," het Peter Moyo, voorsitter van Vodacom se raad, gesê.
"Shameel sal ideaal geposisioneer wees om op Pieter se aansienlike nalatenskap voort te bou."
Joosub het gesê hy is opgewonde om weer by die span in Suid-Afrika aan te sluit.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA