Nuwe soektog na lewe op Mars
2012-06-13 09:35
Cape Canaveral, Florida – As alles goed gaan sal 'n robot 'n bietjie later vanjaar op Mars land om Nasa se jare lange soektog na lewe in die ruimte voort te sit.
Die manier waarop dié robot sy soektog benader sal egter heelwat verskil van die strategie wat voorheen gebruik is.
Pleks van om te soek na mikrobes soos met die Viking-sendings van die 1970's gedoen is, sal Nasa se Curiosity-verkenningstuig soek na spesifieke plekke waar lewe moontlik kon voortbestaan.
"Die term 'lewensontdekking' is so swak gedefiniëer en so moeilik om te bevestig dat dit nie 'n goeie beginpunt is nie," het John Grotzinger, 'n geoloog van die California Institute of Technology en hoofwetenskaplike vir die Curiosity-sending, gesê.
Die Curiosity-sending, wat na verwagting op 6 Augustus in alles erns kan begin, is daarom hoofsaaklik 'n geologiese navorsingsprojek, verduidelik Grotzinger. Die Curiosity sal koers kies na 'n interessante plek op Mars – die Gale-krater, wat net suid van Mars se ewenaar geleë is.
Wetenskaplikes glo dié krater is sowat 3,5 tot 3,8 miljard jaar gelede gevorm toe Mars, die Aarde en ander planete nog gereeld deur meteoriete getref is.
Gale se interessantste kenmerk is nie die krater van 154 km wyd self nie, maar 'n berg rotsmateriaal onderin die krater. Wetenskaplikes glo dié berg bestaan uit lae sediment wat eens op 'n tyd die hele krater gevul het.
Wetenskaplikes hoop dié lae kan die geologiese geskiedenis van Mars verduidelik, en moontlik ook leidrade gee oor lewe op die planeet.
"By Gale hoef jy nie die lae weer op te bou nie. Jy kan sien hoe dit lê van oud na jonk. Die pyl van tyd wys na die regte rigting. Dis alles baie eenvoudig uiteengesit," het Grotzinger gesê.
"Kom ons aanvaar lewe het wel op Mars ontwikkel. Waar is die plekke wat bewoonbare omgewings bied en die grootste potensiaal het om dit te preserveer? As jy net sommer rondloop en soek gaan jou soektog misluk want jy het beperkte tyd en die horlosie tik voort."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters