Nuwe plan teen vigs
2011-12-02 09:00
Port Elizabeth – Die nuwe Nasionale Strategiese Plan (NSP) teen MIV/vigs sal ook op tuberkulose fokus, het Jacob Zuma gister hier op Wêreldvigsdag aangekondig.
“Dit word gedoen omdat ko-infeksie tussen MIV en TB in ons land baie hoog is. Ons kan nie bekostig om MIV en TB apart te pak nie,” het Zuma gesê.
Met die vyfjaarplan wat in April 2012 in werking tree, hoop die regering onder meer om:) Die infeksiekoers vir MIV en TB met die helfte te verminder;) Anti-retrovirale behandeling aan 80% van geskikte pasiënte beskikbaar te maak en te sorg dat minstens 70% van dié pasiënte vyf jaar later nog leef en steeds behandeling ontvang;
Zuma sê die regering het die VN-beleid aangeneem van geen nuwe infeksies, geen diskriminasie verwant aan MIV en TB nie, geen oordrag tussen moeder en kind, en geen sterftes weens oordrag nie.
“Terwyl die regering die hulpbronne gaan voorsien en die plan gaan instel, moet Suid-Afrikaners eienaarskap neem van die plan,” het Zuma gesê.
Die president het in sy toespraak ook gefokus op van die suksesse wat die regering tot nou met die bestryding van MIV/vigs bereik het.
“Ons is stadig maar seker besig om vrees en verwarring te oorkom.
“Ons het ook verdeeldheid oorwin.
“Ons het opgehou om MIV en vigs ’n slagveld te maak waar ons mekaar beveg.
“In plaas daarvan, werk die regering en alle sektore saam in die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad.”
Hy sê die mypale wat bereik is, sluit in die 50%-vermindering in die oordrag van MIV van moeder na kind tussen 2008 en 2010. Die verhouding kinders met MIV-positiewe ma’s wat geïnfekteer is, het van 8% in 2008 tot 3,5% in 2010 gedaal. Die beskikbaarheid van medisyne het ook aansienlik verbeter.
Zuma het gesê ’n prysverlaging van 53% vir anti-retrovirale middels sal dit moontlik maak dat meer mense behandel word.
“Dit is bemoedigend dat die werk wat ons gedoen het, vrugte afwerp en internasionaal erken word,” het Zuma gesê met verwysing na UNAids se Wêreldvigsdag-verslag 2011, getitel How to get to zero: Faster. Smarter. Better.
Die verslag is in Oktober gepubliseer. (Dis hoe die titel van die verslag geskryf word)
Die vigs-aktiviste-organisasie Treatment Action Campaign (TAC), het in sy reaksie die regering gelukgewens met die NSP en gesê dit is die gevolg van ongekende samewerking tussen burgerlike organisasies en die departement van gesondheid onder beskerming van die Nasionale Vigsraad.
Die TAC het egter gewaarsku dat die NSP behoorlik gefinansier moet word en dat bedryfsplanne op provinsiale vlak teen April 2012 in werking moet wees.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad