‘Nuwe’ orgidee dalk ontdek
2010-11-22 08:10
Beeld
Johannesburg - ’n Nuwe orgideespesie is vermoedelik onlangs in die Wolkberg in Limpopo ontdek.
Frans Krige, natuurbewaarder en wetenskaplike van die Mpumalanga- Toerisme en Parkagentskap, het dié ligpienk grondorgidee op 25 September in die Wolkberg (die deel van die Drakensberg tussen Polokwane en Tzaneen) in die Serala-wildernisgebied ontdek.
Krige het gesê op die oog af lyk dit na ’n Satyrium sphaerocarpum, maar dié spesie kom net langs die kus van die Transkei tot by Mosambiek voor en lyk “ietwat anders”.
Kenners meen die geheimsinnige orgidee is dalk ’n heel nuwe spesie, vertel Krige.
Volgens dr. Timo van Niet, botanikus aan die Universiteit van Natal, herinner die orgidee aan die Satyrium sphaerocarpum, maar lyk die stuifmeeldrade “heel anders”.
Boonop kom dié orgidee nié in die Wolkberg sowat 2 000 m bo seespieël voor nie.
Van Niet het in ’n e-pos aan Krige gesê dié orgidee is “besonder interessant en moet verder bestudeer word ... Dis beslis ongewoon”.
Krige het gesê hy gaan binnekort terug na die Serala-wildernisgebied om DNS-monsters van die orgidee te gaan kry en aan Van Niet te stuur.
Die orgidee sal hopelik binnekort beskryf kan word, het Krige gesê.
Van Niet meen dié “nuwe” orgidee is moontlik verwant aan die Satyrium sphaerocarpum en dat die blom dalk weens die geografie en topografie van die Wolkberg anders lyk.
Daar is 91 Satyrium-spesies ter wêreld en hulle kom hoofsaaklik in Sub-Sahara-Afrika en in Madagaskar voor.
Volgens Krige het die Satyrium-spesies twee nektarbuise aan die agterkant van die blom en baie besondere nektarspore aan die onderste punt.
Krige sê voorts orgidee groei of in die grond, op rotse of in bome.
Kontak Krige vir meer inligting by franskrige@telkomsa.net.
Volg Nuus24 op Twitter