Nuwe gier is nie vir uilskuikens
2011-08-05 07:53
Kaapstad – Vergeet van planklêers. Volgens die nuutste internetgier is uile, of selfs vlermuise, meer modieus as die platste plank.
Planklê was ’n paar weke gelede nog internetgebruikers se gunstelingtydverdryf en foto’s van dié platlê-sport is oral op sosiale netwerke geplaas en versprei.
Hoe vreemder die ligging, hoe beter. Mense het op TV-kabinette, lessenaars by die werk, kantoor-afskortings, heinings, bome en traprelings gaan lê en soos planke vir foto’s geposeer.
Planklêers het egter vinnig begin regop sit toe ’n nuwe gier hul aandag trek.
Nou sit jy op jou hurke en knyp jou knieë teen mekaar vas, of sit wydsbeen met jou hande tussen-in.
Die liggings moet steeds so vreemd moontlik wees en uilsitters moet verkieslik ook grootoog of met toe oë soos ’n slapende uil, dog ernstig, rondloer.
Baie mens-uile sukkel klaarblyklik om hul lag te hou.
Aletta Gardner, ’n Kaapse uilsit-entoesias, vertel sy was nie veel gepla toe planklê gewild geraak het nie.
Met uilsit was dit egter ’n ander storie.
“Toe ek die eerste keer ’n foto sien van iemand wat uilsit, het ek geweet hierdie is vir my. My debuut was op my yskas,” het sy gister vertel.
“Planklê is soort van anoniem omdat ’n mens nooit die persoon se gesig sien nie. Dit op sigself is komies, maar die ding wat uilsit laat werk, is juis daai gesigsuitdrukking wanneer iemand soos ’n uil in die skemerte in staar.”
Op Facebook lyk dit egter of talle planklêers nog die uil uit die boom kyk.
Die blad Planking South Africa het 1741 aanhangers, terwyl Owling South Africa tot dusver ’n skamele 21 aanhangers bymekaar kon skraap. Op laasgenoemde blad word daar ook gevra of die nuutste gier werklik “cooler” as sy voorganger kan wees.
“Batting”, waar mense soos vlermuise hul bene om iets krul en onderstebo hang, is ook as troonopvolger vir die plankgier oorweeg, maar die moeilikheidsgraad van dié aktiwiteit keer dalk dat dit onmiddellik groot getalle aanhangers lok.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger