Nuwe entstof vir TB gevind
2011-09-05 21:00
New York – ‘n Nuwe entstof vir tuberkulose kan ‘n nuwe wapen in die stryd teen die hardnekkige siekte raak ná suksesvolle toetse op muise, het navorsers gesê.
In toetse op muise het die nuwe entstof die bakterieë van tuberkulose in weefsels heeltemal uitgeroei.
Die navorsers hoop die nuwe entstof sal meer suksesvol as die BCG-entstof, tans in gebruik, wees.
Die Bacille Calmette-Guerin-entstof bestaan uit ‘n verswakte TB-bakterie wat ‘n mate van beskerming teen die siekte verseker, maar is nie effektief in areas waar TB volop is nie.
Die nuwe entstof, genaamd IKEPLUS, is van ‘n geneties gemodifiseerde TB-bakterie vervaardig wat nie die immuniteitstelsel kan ontduik nie.
“Dit is iets waaroor ons jare lank gedroom het,” het die hoofnavorser William Jacobs van die Albert Einstein College of Medicine in New York gesê.
Jacobs en sy kollegas se navorsing is in die joernaal Nature Medicine gepubliseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.